Die president kan nie die voortgesette ondersoek gebruik om moeilike vrae te ontduik nie. Hoewel dit goeie regsadvies is, kan dit polities rampspoedig vir hom wees. Daarom hoop die DA pres. Cyril Ramaphosa neem Suid-Afrikaners in sy vertroue en kom met die sak patats vorendag oor die diefstal in 2020 op sy Phala Phala-wildplaas in Limpopo.
As Ramaphosa verder gaan swyg, sal die DA als in sy vermoë doen om hom tot verantwoording te roep.
John Steenhuisen, DA-leier, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg stappe genoem wat die DA beoog as Ramaphosa verder versuim om die besonderhede van die diefstal openbaar te maak. Een daarvan is dat die DA die Amerikaanse speurdiens (FBI) se Pretoria-veldkantoor versoek het om bewerings van moontlike geldwassery deur die president te ondersoek.