Die DA wil die Skerpioene laat herleef in die vorm van ’n teenkorrupsiekommissie wat hoëprofiel-korrupsiesake onafhanklik van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) kan ondersoek.
Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en ’n voormalige staatsaanklaer by die NVG, het Woensdag op ’n mediakonferensie aangekondig dat die DA vanjaar wetgewing by die parlement gaan indien vir die stigting van ’n teenkorrupsiekommissie. Dié kommissie moet volgens Breytenbach gestig word as ’n art. 9-organisasie wat “totaal onafhanklik” van die regering is.
“Belangrike instellings soos die NVG, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die departement van korrektiewe dienste en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) . . . moet herbou word (ná staatskaping) en dit gaan baie tyd, geld en moeite neem,” sê Breytenbach.