Ace Magashule, geskorste ANC-sekretaris-generaal (SG), mik vir die ANC-presidentskap en ’n alliansie met Julius Malema, die EFF-leier, as die ANC vorentoe in ’n koalisieregering moet gaan, sê sy ondersteuners.
Magashule moet Vrydag weer in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in verband met die Vrystaatse asbesdak-korrupsieskandaal van R255 miljoen.
Hoewel hy teregstaan op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery, is hy volgens mense naby aan hom een van die eerste ANC-kandidate wat pres. Cyril Ramaphosa om die presidentskap gaan uitdaag.