Die nuwe radikale voorstelle oor wysigings aan die Grondwet se eiendomsklousule kan die regering se landbou-meesterplan in die wiele ry om miljarde rande se bykomende inkomste te verdien en duisende nuwe werksgeleenthede te skep, waarsku Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.
Die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) is ’n belangrike deel van die regering se ekonomiese heropbou- en herstelprogram (ERRP), waarmee hy hoop om nuwe lewe in die ekonomie te blaas.
Sihlobo het Donderdag in ’n Nedbank-praatjie oor landbou se bydrae tot ekonomiese groei gesê die nuwe voorstelle deur die EFF en ANC – wat veel verder gaan as om net uitdruklik vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak – kan groot skade aanrig aan steun wat tot dusver gewerf is vir die meesterplan, asook aan voorgenome gemengde finansieringsmodelle wat die bedryf moet help.