Lesse wat Suid-Afrika se veiligheidsmagte uit die gewelddadige onluste van Julie 2021 geleer het, het bygedra tot die beperking van chaos en ontwrigting van die EFF se #NationalShutdown-betogings.
Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag dít in die parlement gesê toe LP’s die polisie en alle wetstoepassingsagentskappe bedank en geloof het vir hul “professionele” optrede tydens Maandag se landwye betoging.
“Een groot punt was dat ons nie ’n enkele lewe verloor het nie en daar was ook nêrens grootskaalse vernietiging van eiendom nie. Ons weet dat een winkel in Dube, Soweto, geplunder is. Ons groot eerste prys was egter die beskerming van lewe en ons het dit gedoen,” het Cele aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê.