Ek is nie meer ’n rassis nie, ek het my les geleer, het Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, Donderdag in kruisondervraging voor die Zondo-kommissie gesê.
Agrizzi het, terwyl hy aan suurstof gekoppel was, vanuit sy studeerkamer met ’n videoskakel voor die kommissie vrae beantwoord wat deur adv. Reg Willis, regsverteenwoordiger vir die sakeman Kevin Wakeford, in kruisondervraging aan hom gestel is.
Dit was ’n gedurige heen en weer tussen Agrizzi en Willis wat verband hou met Agrizzi se aantyging dat Bosasa vir Wakeford betaal het om te help met ’n ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).