Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat, wou nie tugstappe doen teen senior amptenare wat betrek is by die Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat nie omdat hy daarvan bewus was dat die openbare beskermer (OB) besig was om die projek te ondersoek en hy eers wou wag en kyk wat die ondersoek oplewer.
Dié verskoning wat Magashule aangevoer het omdat hy nie opgetree het teen die betrokke amptenare nie, is vervat in korrespondensie tussen hom en die kantoor van die OB. Dit is Dinsdag deur adv. Dali Mpofu SC as getuienis aangebied aan die parlementêre art. 194-komitee wat adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste OB, se geskiktheid vir haar pos ondersoek.
Mpofu het gesê dat Mkhwebane baie bekommerd was dat Magashule nie al die inligting verskaf het wat van hom gevra is nie. Hy het ook aangevoer dat Mkhwebane aanhou grawe het vir meer inligting.