Familie en vriende van sowat 300 anti-apartheidsaktiviste wat destyds glo deur die polisie se veiligheidstak vermoor is, wil nou hê dat die vervolging van daardie sake deur die regering geprioritiseer word.
Die familie en vriende van wyle Steve Biko, hoofman Albert Luthuli, die Cradock Vier, Imam Abdullah Haron, Ahmed Timol en talle ander het om dié rede op die vooraand van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand, ’n petisie in dié verband aan Ramaphosa gerig.
Hulle eis onder meer dat Ramaphosa namens die regering om verskoning moet vra aan die slagoffers én dat hy ’n kommissie van ondersoek moet aanstel om vas te stel waarom die sowat 300 sake wat destyds deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) aan die nasionale vervolging vir vervolging verwys is, nooit verder gevoer is nie.