’n Senior bestuurder in die openbare beskermer (OB) se kantoor wat ’n beroerte gehad het, het as ’n “hartseer en gebroke” man gesterf. Dit is nadat hy onder die bestuur van adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste OB, dissiplinêre stappe moes teenstaan, selfs al kon hy homself nie meer behoorlik verteenwoordig nie.
Die skokkende gebeure rondom wyle Abongile Madiba, wat deels gestrem was nadat hy in Desember 2017 ’n beroerte gehad het, is Woensdag in getuienis voor die spesiale parlementêre art. 194-komitee genoem. Die komitee se taak is om vas te stel of Mkhwebane geskik is om met haar werk voort te gaan.
Ponatshego Mogaladi, wat 21 jaar diens in die OB-kantoor het en self dissiplinêre stappe moes ontbeer, maar haar saak teen die OB in die arbeidshof gewen het, het getuig oor Madiba se lot.