Politieke inmenging by die SAUK se redaksie en hul onafhanklikheid, soos in die era van die omstrede Hlaudi Motsoeneng, is tans iets van die verlede.
Dít is die versekering wat Madoda Mxakwe, uitvoerende hoof van die SAUK, Dinsdag aan LP’s gegee het toe hy saam met Bongumusa Makhathini, raadsvoorsitter, en ander topbestuurders voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oor die SAUK se finansiële posisie verskyn het.
Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter, het egter die uitsaaier gekap oor veral die talle kontrakte waarin dit afgewyk het van die reëls of wat onbehoorlik verleng is, omdat “dit ’n broeiplek skep vir onreëlmatighede en misbruik”.