Daar was geen geslagsgegronde geweld of seksuele teistering betrokke in die stryery wat uitgebreek het tussen EFF-LP’s en die parlementêre veiligheidsdienste toe pres. Cyril Ramaphosa op 9 en 10 Junie vanjaar sy presidensiële begrotingsrede gelewer het nie.
Dit is luidens ’n verslag bekend gemaak deur adv. Elizabeth Baloyi-Mere, voormalige waarnemende regter en die onafhanklike ondersoeker wat aangestel is om die wedersydse klagtes te ondersoek.
Die klagtes behels bewerings van geslagsgeweld, seksuele teistering, intimidasie en geweld in verband met die EFF-LP’s se verwydering uit ’n sitting van die Nasionale Vergadering (NV) in Junie.