Die senior ANC-parlementslid wat ’n leidende rol gaan speel in die besluit hoe die parlement die verslae van die Zondo-kommissie sal hanteer, het self by staatskaping baat gevind.
Cedrick Frolick, voorsitter van die parlement se komitees, meen egter daar is geen rede waarom hy sy pos moet ontruim nie – al het selfs van sy eie koukuslede die afgelope week teenoor Rapport te kenne gegee dat sy posisie onhoudbaar is.
In sy derde verslag, wat verlede maand uitgereik is, het hoofregter Raymond Zondo bevind dat Frolick R40 000 van wyle Gavin Watson, eertydse uitvoerende hoof van Bosasa, ontvang het om potensiële probleme vir die maatskappy uit te stryk.