ANC-lede in die komitee wat die eiendomsklousule in die Grondwet herskryf, verskil heeltemal van pres. Cyril Ramaphosa se uitsprake Donderdag dat wegbeweeg moet word van voogdyskap van grond.
Die proses is in die pylvak om art. 25 van die Grondwet te wysig sodat dit uitdruklik voorsiening maak vir onteiening van grond sonder vergoeding – oftewel vir onteiening teen ’n nulwaarde, soos regsadviseurs die parlement aangeraai het om te doen.
Maar die ANC se studiegroep in die portefeuljekomitee het Maandag tot die verbasing van ander politieke partye voorgestel dat die regering in die Grondwet verplig word om alles in sy vermoë te doen om grond onder sy voogdyskap te kry vir grondhervorming.