’n Voorstel van die ANC om “staatsvoogdyskap oor grond” in te werk in die beoogde wysiging van die Grondwet om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, “is absoluut skrikwekkend”.
“Dit sal ’n skokgolf deur die landbousektor stuur,” het Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van die landbou-organisasie Agri SA se Grondsentrum van Uitnemendheid, Maandag gesê kort nadat dié en ander omstrede voorstelle in die parlement ter tafel gelê is.
Dié voorstelle het uiterse kommer uit veral die landbousektor ontlok – veral omdat Maandag die laaste dag van die mandaat was van die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses moet bestuur.