Die ANC-regering se grondhervormingsprogram waarin miljarde rande van belastingbetalersgeld tot dusver gestort is, is ’n “kolossale” mislukking, meen die DA.
Daarom is dit tyd dat gewone Suid-Afrikaners volgens Noko Masipa, DA-LP en woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, deur ’n nasionale indaba bymekaar moet kom om praktiese oplossings te vind om dit te laat werk.
Masipa het Sondag gesê sy gaan ’n versoek rig aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, om dringend ’n nasionale indaba byeen te roep met belanghebbendes in die bedryf, begunstigdes van grondhervorming en landboudeskundiges.