Daar was geen tekort aan drama nie toe Eskom se bestuur en raad Vrydag by Megawatt Park, dié nutsmaatskappy se hoofkantoor in Johannesburg, met LP’s van drie parlementêre portefeuljes oor die kragkrisis vergader het. LP’s van die komitees minerale hulpbronne en energie, openbare ondernemings en die verkose komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie het met Eskom vergader oor korttermynoplossings om beurtkrag te beëindig.
Die drama het al vroegoggend begin. ANC-LP’s van die komitees het minute nadat die vergadering begin het, uit protes uitgestap ná bewerings dat Clive le Roux, ’n Eskom-raadslid, glo destyds beweerde seksistiese uitlatings gemaak het dat vroue nie geskik is vir sekere strategiese poste in Eskom nie.
Mikateko Mahlaule, ANC-LP, sê dit pla hom om in ’n vergadering te sit met Le Roux wat sulke uitlatings gemaak het.