Die uitbreek van massageweld weens haatspraak of haatmisdade in Suid-Afrika moenie onderskat óf ligtelik opgeneem word nie.
Die vakbondfederasie Cosatu het Dinsdag so gesê in sy voorlegging tydens die openbaredeelnameproses oor die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak in die parlement.
Verskeie ander organisasies, soos die Legal Resources Centre, die Scalabrini-sentrum van Kaapstad, Same Love, Cause for Justice, die Triangle Project, die Women’s Legal Centre en die ANC-vroueliga se LGBTIQ+-afdeling in die Wes-Kaap, het Dinsdag ook hul insette daaroor aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gelewer.