Uitslae van die jongste tussenverkiesings die afgelope week toon dat John Steenhuisen en Helen Zille as nuwe DA-topleiers nog nie ’n impak op die party se dalende steun in tussenverkiesings gehad het nie.
Die party het in Woensdag se tussenverkiesings in wyk 2 in Thabazimbi, Limpopo, 33,59% van die steun gekry teenoor 57,16% in 2016 se munisipale verkiesings. Die DA het wel die wyk behou.
Die VF Plus, wat in vroeër vanjaar se algemene verkiesings steun van die DA weggerokkel het, het 28,43% van die stemme gekry teenoor 7% in 2016.