Die kabinet respekteer die benadering wat pres. Cyril Ramaphosa rakende die Phala Phala-wildplaas-sage ingeneem het.
Daarom is hierdie kwessie nie op Woensdag se kabinetsvergadering bespreek nie, het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, Donderdag gesê.
Gungubele is op ‘n nuuskonferensie in Pretoria waar besluite van die jongste kabinetsvergadering bekend gemaak is, oor die saak uitgevra waarin strafregtelike klagte teen Ramaphosa by die polisie ingedien is omdat hy glo versuim het om die diefstal van miljoene dollar in 2020 op sy wildplaas by die owerhede aan te meld.