Ouers moet hul kinders leer om rassisme te verwerp en diversiteit te omhels as deel van Suid-Afrika se gesamentlike pogings om nasiebou en maatskaplike samehorigheid te bevorder.
Dit is die versoek van pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet nadat hulle Woensdag tydens ’n kabinetsvergadering onlangse voorvalle van rassisme in die land, wat die urineringsvoorval by die Universiteit Stellenbosch insluit, en by die Good Hope Seminary High School in Kaapstad, ten sterkste veroordeel het.
“Hierdie betreurenswaardige dade is teenstrydig met die grondwetlike waardes waarop ons demokratiese land gegrond is, naamlik menswaardigheid, nierassigheid, nie-seksisme, maatskaplike geregtigheid, billikheid en respek,” het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, Donderdagoggend gesê toe hy besluite van Woensdag se kabinetsvergadering tydens ’n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak het.