Hoewel pres. Cyril Ramaphosa sê kommer oor die staat se hantering van die vloedramp in KwaZulu-Natal (KZN) is misplaas, meen die DA in die provinsie amptenare en politici steek die werklike krisis, wat elke dag vererger, weg vir die mense.
Francois Rodgers, DA-leier in KZN, het Maandag by ’n mediasessie gesê KZN en veral die eThekwini-metro word deur ’n leierskapskrisis in die gesig gestaar.
“Meer as ’n maand sedert die vloede is duisende inwoners en gemeenskappe in die metro steeds sonder water en het geen idee wanneer dit ten volle herstel gaan word nie. Huishoudings word steeds deur kragonderbrekings geraak, al is die metro van beurtkrag vrygestel.”