Hazim Mustafa, die Soedannese sakeman wat 20 buffels vir honderdduisende dollars van pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gekoop het, het tot onlangs niks hieroor gerep nie, “want niemand het my daaroor gevra nie”.
Hy het Woensdag wel aan Netwerk24 bevestig dat die Valke hom intussen genader het om ’n verklaring af te lê.
“Die diefstal traak my nie; ek het in die nuus daarvan gelees,” het Mustafa in reaksie op vrae van Netwerk24 vanuit Katar laat weet, waar hy tans die Wêreldbeker-sokkertoernooi saam met sy Suid-Afrikaans gebore vrou, Bianca O’Donoghue, bywoon.