Die minister van staatsdiens en administrasie het ’n eenheid om korrupsie in die staatsdiens uit te roei en fluitjieblasers aan te moedig en te beskerm op die been gebring.
Ayanda Dlodlo het Maandag op die bekendstelling van die eenheid vir tegniese hulp vir etiek, integriteit en dissipline in die staatsadministrasie gesê dit sal ’n sleutelrol speel sodat die regering die doelwitte in sy 2018-teen-korrupsiestrategie kan behaal.
Pres. Cyril Ramaphosa het die strategie uiteengesit kort nadat hy president geword het “om ’n Suid-Afrika te skep wat vry is van korrupsie, en op die waardes van integriteit, deursigtigheid en aanspreeklikheid, respek vir die oppergesag van die reg en geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie gegrond is”.