Mxolisi Dukwana (58), nuutverkose voorsitter van die Vrystaatse ANC, het Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en baie jare lank Vrystaatse voorsitter van dié party, op die onlangse ANC-konferensie gevra om toe te laat dat die ANC in die Vrystaat gesond word.
“Maar Ace het gedink hy is groter as die party en het na ons nuwe sekretaris-generaal (SG), Fikile Mbalula, ‘as daardie seun’ verwys en ‘dat daardie ding’, verwysend na die ANC, klaar is.
“So, as hy dink hy is groter as die party en hy wil hom by ’n ander party aansluit, wens ons hom voorspoed toe,” sê Dukwana, wat in die verlede as Magashule se “aartsvyand” beskou is. Hy het voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat Magashule en Duduzane Zuma deur die Guptas omgekoop is. Albei het dit ontken.