Drie voormalige SAID-werknemers glo die narratief van die sogenaamde rogue unit gaan steeds as politieke speelbal gebruik word nadat die hooggeregshof in Pretoria hulle Maandag amptelik van enige klagte hieroor vrygeskeld het.
Ivan Pillay, Johann van Loggerenberg en Andries Janse van Rensburg kan uiteindelik ’n sug van verligting slaak nadat hulle al jare lank volhou dat hulle nooit by ’n onwettige geheime eenheid in die SAID betrokke was nie.
Die drie het Maandag in ’n verklaring deur hul prokureurs van die firma Werksmans volgehou dat daar boonop nooit so ’n eenheid was nie, en dat die “mite” van ’n geheime eenheid destyds bloot as rookskerm gebruik is deur diegene wat die staatskas wou plunder.