Duisende mense het die naweek binne 24 uur die petisie teen die moontlike naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument-museum (ATM) in die Paarl geteken. Verskeie ander partye het ook hul teenstand oor die beplande verandering uitgespreek.
Een daarvan is die Drakenstein-munisipaliteit, wat by monde van sy burgemeester, Conrad James Poole, sy stem by die teenkanting gevoeg het.
“Vandag wil ek vir die agbare Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, sê: ‘Hou jou hande van die Afrikaanse Taalmonument af!’ Die Monument is ’n ikoniese erkenning van al die tale wat bygedra het tot die ontstaan van Afrikaans as ’n taal,” het Poole in ’n verklaring gesê.