Die Noordwes-regering het oor die tydperk van drie jaar tot 2017 meer as R14 miljoen bestee aan The New Age, die Guptas se koerant, het die premier se kantoor Vrydag bevestig.
“R14 miljoen is baie geld vir ’n provinsie soos Noordwes,” sê Freddy Sonakile, die DA se woordvoerder oor plaaslike regering in die provinsie. “Die geld sou inwoners se lewens kon verbeter. Dit kon aangewend word vir 730 straatligte of om bestendige sonkrag aan 113 klinieke te voorsien of om 20 000 m² se slaggate op te vul.”
Sonakile meen die onthulling oor die R14 miljoen ná die DA se vraag vandeesweek daaroor in die wetgewer kon nie op ’n beter tyd gekom het nie omdat die laaste verslag van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nou uitgereik is.