Die Nasionale Vergadering (NV) het geen spesifieke spertyd gestel vir wanneer presies die parlementêre ondersoek na adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer (OB), afgehandel moet wees nie.
Die art. 194-komitee wat dié proses dryf onder leiding van die komiteevoorsitter, Qubudile Dyantyi, moet self daaroor besluit en die NV daaroor “adviseer”, het Masibulele Xaso, NV-sekretaris, Donderdag aan LP’s op ’n sitting van die NV-programkomitee gesê.
Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, wou in die sitting by Nosiviwe Mapisa-Nqakula, NV-speaker, weet wat die beoogde datum is waarop die komitee sy werksaamhede moet voltooi omdat sy “ ’n paar verbysterende tydsraamwerke daar (in die voorlopige program) sien”.