Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het ’n hofaansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die parlement te keer om voort te gaan met die proses om haar uit haar amp te verwyder.
Sy wil ook hê die hof moet pres. Cyril Ramaphosa verhoed om haar hangende die proses te skors en dat ’n brief deur Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), onwettig verklaar en tersyde gestel word.
Mkhwebane verwys in haar hofaansoek na dié brief wat Mapisa-Nqakula aan Ramaphosa gestuur het en waarin sy hom inlig dat die art. 194-komitee, wat die parlementêre verwyderingsproses hanteer, daarmee voortgaan.