Alhoewel adv. Busisiwe Mkhwebane, die geskorste openbare beskermer (OB), en haar regspan deelneem aan die parlementêre verwyderingsproses teen haar, doen hulle dit “onder protes” weens “groot grondwetlike skendings”.
Adv. Dali Mpofu SC, Mkhwebane se regsverteenwoordiger, het Maandagoggend so gesê in sy openingsrede op die eerste dag van die ondersoek wat moet bepaal of sy geskik is vir haar amp of nie.
Mpofu het aan die LP’s in die art. 194-komitee wat die proses moet dryf, gesê: “Ons is egter hier en sal nietemin deelneem omdat ons ’n wetsgehoorsame burger en ’n OB verteenwoordig. Sy het dit nog altyd duidelik gemaak dat sy die geleentheid wil hê om hierdie komitee, die Nasionale Vergadering (NV) en die nasie te verseker dat sy geskik, bereidwillig en in staat is om haar verpligtinge as OB uit te voer.