Afrikaans het nog altyd soos alle ander tale sy status soos vervat in die Grondwet gehad, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie.
“Daarom is ons nie gedwing om die status van Afrikaans (in die departement se omstrede taalbeleidsraamwerk) te verander nie,” het Nzimande Donderdagmiddag ná sy begrotingsrede in die Nasionale Vergadering gesê.
Dit was in reaksie op Chantel King, DA-LP, se stelling in die debat oor sy begroting dat die DA Nzimande en sy departement uiteindelik gedwing het om ’n regsmening wat hy self aangevra het uit te reik. Dit beveel aan dat hy Afrikaans en die Khoi- en San-tale as inheemse tale in die taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings moet herklassifiseer.