Die ANC se planne om onteiening sonder vergoeding in die Grondwet in te skryf, is gekelder toe die EFF nie vir ’n vergadering in die parlement hieroor opgedaag het nie.
Op die agenda was ’n voorstel dat die afsnypunt vir grondeise van Junie 1913 – die datum waarop die Wet op Naturellegrond aanvaar is – tot sover terug as Januarie 1800 verander word. Nog ’n nuwe voorstel is om tradisionele grond uit te sluit van onteiening sonder vergoeding, ’n stap wat die mag van tradisionele leiers verder sal verskans.
Die wysigings was ’n laaste poging deur die ANC om die EFF se steun te kry vir die wysiging van die Grondwet. Die feit dat die EFF nie eens vir die vergadering opgedaag het nie, het die laaste hoop laat vervaag dat dié party tog die wysiging sal steun.