Die wysiging van die Grondwet om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak moet nie as ’n kwessie tussen swart en wit mense gesien word nie, maar eerder as ’n Suid-Afrikaanse kwessie.
So het dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses lei om die Grondwet vir onteiening sonder vergoeding te wysig, Vrydag gesê nadat die komitee vir die eerste keer oor die voorlopige 18de grondwetlike wysigingswetsontwerp begin beraadslaag het.
Motshekga het ná die sitting Vrydag in ’n verklaring gesê dat hy dit op die vergadering aan LP’s in die komitee verduidelik het dat die beoogde wysiging van die Grondwet nie ’n kwessie van “swart en wit mense” is nie.