Eiendomsreg is die rots van die ekonomie en die ANC-regering se wetsontwerp om art. 25 van die Grondwet oor onteiening sonder vergoeding te wysig, sal dié rots vernietig, sê Alan Winde, Wes-Kaapse premier.
Winde het Dinsdag op ’n mediakonferensie oor die wetsontwerp gesê dit is belangrik dat inwoners van die Wes-Kaap weet wat die provinsiale regering se standpunt hieroor is. “Ons verwerp dit in geheel.”
Hy het gesê eiendomsreg is die rots van die ekonomie waarop potensiële beleggers, plaaslik of internasionaal, staatmaak om te verseker dat ’n land se ekonomie werk.