Die onteieningswetsontwerp is noodsaaklik om die “honger na grond” in Suid-Afrika te stil, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in ’n vraag-en-antwoordsessie van die Nasionale Vergadering (NV) gesê.
Hy het op ’n vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, oor die grondwetlikheid van die onteieningswetsontwerp gesê die wet is noodsaaklik om “geskiedkundige ongelykhede” aan te pak.
Ramaphosa het in die sitting gesê die wetsontwerp moet eers deur alle parlementêre prosesse gaan voordat hy kan besluit of dit grondwetlik is of nie en of hy dit na die konstitusionele hof sal verwys om “getoets” te word.