Die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) sê hy het ’n verslag ontvang oor die inwerkingstelling van die besluit deur sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) dat lede wat geraak word deur die opsystaanreël, nie meer tot enige amp verkies kan word nie.
Die besluit is in April op ’n spesiale NUK-vergadering geneem dat ANC-lede wat vrywillig opsy gestaan het of wat geskors is weens aanklagte van korrupsie of ander ernstige misdaad, nie toegelaat sal word om vir enige pos vanaf tak- tot NUK-vlak te staan nie. Dit geld poste in die plaaslike, streeks-, provinsiale of nasionale uitvoerende komitees van die party.
“Die NWK het kennis geneem en dit verwelkom dat die besluit in streeks- en provinsiale konferensies nagekom is na aanleiding van die spesiale NUK-vergadering,” het die komitee Donderdag ná ’n vergadering gesê.