Die publiek het ’n reg om te weet waarom presies die hoof van ’n noodsaaklike instelling in die nasionale vervolgingsgesag (NVG), wat hoëprofiel-oortreders van staatskaping en korrupsie moet vervolg, bedank het.
Oudregter Richard Goldstone, afgetrede regter van die konstitusionele hof, het Donderdag ook gesê dit is daarom “onaanvaarbaar” dat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, nie Woensdag presiese inligting rondom adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat (OD), se bedanking aan LP’s kon verskaf nie.
“Daar is ’n gebrek aan deursigtigheid, wat ek dink een van die hoofoorsake is van die gebrek aan vertroue in en die ongeduld van die publiek (teenoor die NVG),” het Goldstone Donderdag op ’n aanlyn paneelbespreking oor teenkorrupsie-pogings in Suid-Afrika gesê.