Die parlement oorweeg tans of die African Transformation Movement (ATM) toegelaat sal word om ’n mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa in te stel.
So het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, Donderdag gesê in reaksie op vrae oor dié mosie wat die ATM vroeër by haar kantoor ingedien het.
Die ATM sukkel sedert sy stigting kort voor die 2019-verkiesing om beweringe af te skud dat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, ’n hand in sy totstandkoming gehad het.