Afrika sal in die volgende vier jaar volgens berekeninge van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) finansiële hulp van $285 miljard benodig om die uitwerking van die Covid-19-pandemie te oorkom.
So sê leiers wat Dinsdag pres. Emmanuel Macron van Frankryk se beraad oor die finansiering van Afrika-ekonomieë bygewoon het in ’n gesamentlike verklaring.
Die beraad in Parys is deur verskeie Afrikaleiers, verteenwoordigers van onder meer Kanada, Amerika, Brittanje, Nederland, Portugal, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, die Europese Kommissie, China en Duitsland, sowel as finansiële instellings soos die IMF, die Wêreldbank en ontwikkelingsbanke, bygewoon.