LP’s van die Nasionale Vergadering (NV) het Donderdag ’n konsepresolusie vir die samestelling van ’n ad hoc-komitee aanvaar om ’n opvolger vir adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer (OB), te kies.
Mkhwebane se termyn verstryk op 14 Oktober vanjaar. Doris Dlakude, ANC-adjunkhoofsweep, sê die komitee sal teen 31 Augustus ’n verslag aan die NV voorlê en ’n geskikte kandidaat vir die pos benoem.
“Die komitee sal uit 11 stemgeregtigde LP’s bestaan – ses van die ANC, twee van die DA, een van die EFF en twee lede uit die kleiner partye. Verder sal die komitee uit 14 nie-stemgeregtigde LP’s bestaan – twee van die ANC, een van die DA, een van die EFF en tien van die ander partye.”