Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) moet pres. Cyril Ramaphosa onmiddellik herroep as president van die party en van die land, het die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging (MKMVA) Donderdag gesê.
Daarmee het dié vereniging sy stem gevoeg by oproepe van binne en buite die ANC waarmee die kop van Ramaphosa geëis word ná die bevindings in die verslag van die art. 89-paneel wat bevind het dat prima facie-bewyse bestaan om hom moontlik in ’n staat van beskuldiging te plaas.
“Sy posisie is onhoudbaar. Hy moet die eties regte ding doen en bedank. As hy dit nie doen nie, verwag ons van die NUK om hom onmiddellik op sy dringende spesiale vergadering as ANC-president af te dank. Natuurlik sal hy gevolglik ook as staatshoof moet uittree,” het Carl Niehaus, woordvoerder, namens die MKMVA gesê.