Die departement van justisie is in die donker oor die uitleweringsproses van die Gupta-broers.
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, is bekommerd daaroor dat die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) hom nie aan Suid-Afrika se navrae oor die stand van dié proses steur nie. Daarom gaan Lamola regstreeks met sy eweknie in die VAE oor Suid-Afrika se aansoek praat om Atul en Rajesh Gupta aan Suid-Afrika uit te lewer.
Die VAE het Suid-Afrika nog nie ingelig oor die broers se eerste hofverskyning om te bepaal of daar ’n verhoor vir die uitleweringsaansoek gaan wees nie.