Die Afrikanerbond sê Suid-Afrikaners en toeriste raak toenemend deel van die misdaadstatistieke terwyl 209 politici vir 24 uur ’n dag teen ’n koste van R2 miljard beskerm word.
Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, meen die regering het tred met die werklikheid verloor.
“Die moord op die Duitse toeris (in Mpumalanga), plaasmoorde en aanvalle is alles deel van die daaglikse statistieke. ’n Minister besoek die misdaadtoneel en ’n ander een predik vir die wêreld dat toeriste veilig is en dat nog net drie in die land vermoor is. Dit gebeur terwyl 71 Suid-Afrikaners daagliks vermoor word,” sê Bosman.