Suid-Afrikaners sal nóg langer asem moet ophou oor wat pres. Cyril Ramaphosa uiteindelik oor sy onmiddellike politieke lot gaan besluit.
Op ’n dag wat die bespiegeling hoog geloop het dat Ramaphosa weens die verdoemende bevindinge teen hom in ’n art. 89-verslag oor Phala Phala gaan bedank, het Vincent Magwenya, sy woordvoerder, Donderdagmiddag by Tuynhuis in Kaapstad gesê die beleërde staatshoof ondersoek nog eers “alle opsies op die tafel”.
Hy het ook om verskoning gevra vir die verwagting wat geskep is dat Ramaphosa Donderdag die land sou toespreek oor dié verslag waarin onder meer bevind is dat daar prima facie-bewyse is vir die parlement om hom moontlik weens die Phala Phala-sage in ’n staat van beskuldiging te plaas.