Suid-Afrika is ’n nasie wat in ’n oorlog met homself gewikkel is, volgens pres. Cyril Ramaphosa.
“Dít word bevestig deur die misdaadstatistieke vir die laaste kwartaal wat verlede week, net voor die aanvang van die jaarlikse veldtog 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, uitgereik is,” skryf hy Maandag in sy weeklikse nuusbrief.
Ramaphosa verwys na die misdaadstatistieke vir Julie tot September vanjaar wat aandui dat 989 vroue en 315 kinders in dié drie maande vermoor is, dat 1 277 vroue slagoffers van pogings tot moord was en meer as 13 000 slagoffers van ernstige aanranding was.