Suid-Afrika sal nie ingetrek word in konflikte tussen wêreldmoondhede nie en sal ook nie afstand doen van sy onafhanklike en onverbonde buitelandse beleid nie, sê pres. Cyril Ramaphosa.
Hy sê ook Afrika is nie bereid om terug te keer na die tydperk van die Koue Oorlog nie toe lande van dié vasteland bloot pionne op ’n skaakbord was.
Ramaphosa se uitsprake Donderdag, op ’n Afrikadagviering by Maropeng in die Wieg van die Mensdom, kom te midde van verskerpte pogings van Suid-Afrika om saam met ander lande in Afrika vrede tussen Rusland en Oekraïne te probeer bewerkstellig.