Die sluipmoord op die likwidateur Cloete Murray en sy seun, sowel as die poging om André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, te vergiftig, wys hoe dit is om in ’n “mafiastaat” te leef, sê Helen Zille.
Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Maandagoggend vroeg in ’n reeks twiets oor soortgelyke voorvalle en beweerde korrupsie uitgewei.
Murray (50), ’n likwidateur van die dienstemaatskappy Bosasa, en sy seun, Thomas (28), is Saterdag op die N1-snelweg in Midrand geskiet terwyl hulle in die rigting van Pretoria gery het.