Waarskuwings deur een van die DA se ster-politici dat die aanlyn stemmery in die party se leierskapverkiesing later vanjaar vatbaar is vir ’n geknoei, is sommer bog, sê dié party.
Dit was Vrydagmiddag die boodskap van dr. Ivan Meyer, die DA se federale voorsitter, en Simon Dickinson, die party se uitvoerende hoof, op dié bewerings deur die leierskandidaat Mbali Ntuli. Sy het Maandag gewaarsku ’n onbetroubare kiesstelsel sal die DA se aanlyn leierskongres bederf. Die verkiesing van die DA se nuwe leiers vind van 31 Oktober tot 1 November tydens ’n aanlyn federale kongres plaas.
Ntuli, ’n LPW in KwaZulu-Natal, daag vir John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, om die toppos uit. Ook John Moodey, Gautengse leier, ding mee. Ntuli en Moodey het verlede maand op ’n federale raadsvergadering die besluit teengestaan om die kongres aanlyn te hou, maar 82% van die raadslede het besluit dit moet voortgaan weens die vrees vir ’n Covid-19-uitbreking.