Die DA en ActionSA kan in die toekoms die vermeende staatskapers wie se name in die Zondo-kommissie se verslae genoem word, privaat vervolg indien die owerhede dit nie doen of nie gou genoeg optree nie.
Opposisiepartye het Woensdag, ’n week nadat die kommissie van ondersoek na staatskaping sy laaste verslag uitgereik het, hul druk op die owerhede verskerp om met die vervolgings te begin.
Die DA het in Kaapstad strafregtelike klagte ingedien teen die ANC sodat dié party vir die “stelselmatige en berekende bedrywighede van rampokkery oor verskeie jare” ondersoek kan word.