Suid-Afrikaners kan nie kwalik geneem word nie as hulle hardop begin vra of geregtigheid uiteindelik gaan seëvier ná die vertraging om die finale deel van die Zondo-kommissie se verslag te oorhandig.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het Dinsdag so gesê op dieselfde dag as wat pres. Cyril Ramaphosa en hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, vure moes doodslaan ná kwaai kritiek omdat die verslag nie Maandag oorhandig is soos vroeër beloof is nie.
Ramaphosa en Zondo het in onderskeie verklarings ook ten sterkste ontken dat Ramaphosa by die werk van die kommissie ingemeng het, soos bespiegel word.